Elke mens het ‘n behoefte om gerespekteer te word vir wie hy of sy is, maar almal ervaar soms verliese.  Die grootste verlies is ‘n verlies aan menswaardigheid.  Elkeen wil gerespekteer word vir sy goeie oordeel of vir sy besondere vermoëns.  Elkeen wil graag ook gehoor word en erkenning kry vir sy besondere standpunt.  Wanneer ons in die huis, by die werk of in ons vriendekring ‘n vernedering van watter aard ook al beleef ondervind ons ‘n verlies aan menswaardigheid.  Soveel keer verloor ons ons selfrespek omdat ander dit wat ons doen en sê kritiseer of omdat ons in ons eie oë faal in dit wat ons dink God van ons verwag.  Hoe kan ek hierdie menswaardigheid wat ek so graag in die gemeenskap wil hê, verkry, en hoe kan ek dié menswaardigheid herstel wat ek moontlik reeds verloor het?